Vliegtuiginstandhouding: Slegs ʼn handjievol kundiges behou

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Vrydag bekend gemaak dat slegs 139 werknemers behoue gaan bly vir die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) en Denel Lugvaart/AMG se nuwe kontrak vir vliegtuiginstandhouding. Dit beteken dat 384 werknemers teen einde Maart sonder werk gaan wees.

Jack Loggenberg, woordvoerder van Solidariteit, sê van die 139 werknemers wat behoue gaan bly, is 24 lede van die vakbond. “Dit beteken dat 203 van Solidariteit se lede teen die einde van volgende maand werkloos gaan wees. Solidariteit se lede maak 52% van die 384 werknemers uit wat hul werk gaan verloor. Dit is baie teleurstellend dat slegs ʼn handjievol van die kundiges vir die volgende jaar van werk verseker is. Die nuwe kontrak is vir 12 maande geldig. Die hoop is baie skraal dat die oorblywende werknemers binne Denel of ander maatskappye herontplooi sal kan word. Dié werknemers het gister finale kennisgewings ontvang sodat Denel die huidige kontrak se diensbeëindigingsdatum van 31 Maart kan nakom.”

Solidariteit verteenwoordig 227 van die 523 vliegtuigspesialiste. Hierdie werknemers is landwyd by verskillende eskaders, waaronder Hoedspruit, Lephalale (Ellisras), Louis Trichardt, Bredasdorp, Ysterplaat en Langebaan gestasioneer. Nagenoeg 40% van die vliegtuigspesialiste is in Pretoria gestasioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.