Vliegtuigongeluk: Bemanningslede se name bekendgemaak

Die C47 TP Turbo Dakota in die Silwer Valke se kleure geverf

Nog foto’s volg onderaan die berig.

Die name van vier van die bemanningslede wat in die Dakota-vliegtuigongeluk omgekom het, is bekendgemaak.

Die bemanningslede was maj. Kurt Misrole, kapt. Zack Smith, en sersante Eric Boes en Jimmy Mofokeng. Hul naasbestaandes is reeds in kennis gestel van hul afsterwe. Die families ontvang tans berading by 35 Eskader op Ysterplaat-lugmagbasis, waar dié lugmaglede gestasioneer was.

“Dit is ʼn reuse lugvaart-tragedie in Suid-Afrika. Hierdie vliegtuig het ʼn ryk en trotse erfenis in die Suid-Afrikaanse Lugmag. Dit het in die Tweede Wêreldoorlog gevlieg en het onlangs ʼn ‘nuwe lewe’ gekry toe dit as die amptelike ondersteuningsvliegtuig van die Silwer Valke geverf is,” het Brian Emmenis, lugskoukommentator en lugvaartkenner, aan AlgoaFM gesê.

Sersant Eric Boes

Sersant Eric Boes, laaimeester aan boord die vliegtuig, sou Vrydag sy 40ste verjaarsdag gevier het. Hy was ʼn toegewyde Christen en laat ʼn vrou en twee kinders agter. Al vier die mans was getroud.

Siphiwe Dlamini, hoof van kommunikasie by die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), het vroeër Donderdag bevestig oud-president Nelson Mandela se mediese span was nie aan boord die Dakota, soos vroeër berig is nie.

Die Dakota-vliegtuig het Woensdag van Waterkloof Lugmagbasis onderweg na Mthatha vermis geraak. Die vliegtuig was veronderstel om omstreeks 10:00 in Mthata te land. Die wrak van die vliegtuig is Donderdagoggend in die Giants Castle-gebied in die Drakensberg opgespoor.

Die SAW sal ʼn volledige ondersoek instel oor die ongeluk.

Sersant Eric Boes se gesin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.