Vloede in Port St Johns

Argieffoto van vloede in Port St Johns Foto: NSRI

Voertuie is onderdompel en talle mense ontruim ná vloede oornag in Port St Johns in die Oos-Kaap.

“Inwoners is na die plaaslike stadsaal ontruim waar hulle komberse en maaltye ontvang het,” het Mvusiwekhaya Scwetsha, woordvoerder van die plaaslike regeringsministerie in die Oos-Kaap, gesê. Hy het bygevoeg dat sommige inwoners egter geweier het om hul huise te verlaat.

Mlibo Qoboshiyane, LUR vir plaaslike regering, doen ‘n beroep op alle inwoners om saam te werk.

Die departement sê dele van die R61 tussen Port St Johns en Lusikisiki is gedeeltelik gesluit ná grondstortings. Verkeersbeamptes is op die toneel. Die owerhede het ook ‘n boom verwyder wat oor ‘n ander pad geval het.

“Watervlakke het Sondag in Soweto, Johannesburg, begin daal en daar is nie verdere vloedverwante noodgevalle nie,” het Robert Mulaudzi, woordvoerder van nooddienste in Gauteng, gesê. 136 mense is Saterdag dakloos gelaat toe hul plakkershuise deur vloede vernietig is. Hulle is na die Khayalethu-versorgingsentrum geneem. Niemand is beseer nie.

Talle motoriste en passasiers moes gered word toe hulle in vloede in Soweto vasgeval het. Twee huise is in Diepkloof in Gauteng deur weerlig getref, maar niemand is beseer nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerburo het aangedui dat die koue, nat toestande regdeur die naweek verwag kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.