Die Stad Kaapstad het nagenoeg R1 miljoen aan rampbestuur bestee nadat talle huishoudings onder swaar reën en oorstromings in die Kaapse Skiereiland deurgeloop het.
Wilfred Solomons-Johannes, ‘n woordvoerder van die stad se rampbestuureenheid, het gesê meer as 6 000 huishoudings het hulp in die vorm van komberse en kospakkies ontvang, het RSG Dinsdag berig.
Solomons-Johannes sê hulpbronne soos die ontplooiing van personeel en toerusting wat gebruik word vir opruimings- en herstelwerk is nie by dié bedrag ingereken nie.
Intussen is rampbestuurspanne steeds op ‘n hoë gereedheidsbasis met nog reën wat vir die res van die week voorspel word. Die afgelope naweek is talle informele woongebiede ná swaar reën oorstroom. Opruimingswerk duur voort.