Die Nederlandse regering het Woensdag aangekondig dat verskeie lande se passasiersvlugte na Amsterdam opgeskort word, insluitend dié van Suid-Afrika. Dié besluit kom te midde van ʼn tweede vlaag Covid-19 wat tans in verskeie lande woed.
Die verbod tree Saterdag in werking en is van toepassing op Suid-Afrika, Brittanje, Brasilië, Argentinië, Bolivia, Kaap Verde, Chili, Colombia, Ecuador, Frans-Guyana, Guyana, Panama, Paraguay, Peru, Suriname, Uruguay en Venezuela.
Volgens El Broide, woordvoerder van KLM, is vlugte van dié lande deur die Nederlandse regering opgeskort in ʼn poging om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.
KLM het intussen alle vlugte van Johannesburg en Kaapstad na Amsterdam opgeskort om te voldoen aan die nuwe regulasies.
Hoewel vlugte heeltemal opgeskort is, het die regering ʼn aantal uitsonderings aangekondig vir passasiers wat Amsterdam wil binnekom. Dit sluit in persone wat ʼn bewysbare waarde vir die Nederlandse ekonomie en samelewing sal hê, atlete en spanne, professionele persone in die kulturele en kreatiewe sektore asook joernaliste en navorsers.