VN stel miljarde rande beskikbaar vir humanitêre hulp in Libië

Die Libiese leier, Muammar Gaddafi. Foto: GCIS

Suid-Afrika het ingestem om sowat tien miljard rand in bevriesde Libiese fondse vir humanitêre hulp beskikbaar te stel.

Suid-Afrika is ʼn lid van die Verenigde Nasies (VN) se sanksieskomitee oor Libië en wou nie vroeër fondse aan die land beskikbaar stel nie aangesien die rebelle se Nasionale Oorgangsraad nog nie deur Afrika-Unie (AU) as die amptelike verteenwoordiger van die mense in Libië erken is nie. Die fondse sal egter nie aan die rebelle gaan nie maar aan humanitêre organisasies. ʼn Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking, Clayson Monyela, sê die fondse is nie ʼn amptelike erkenning van die oorgangsraad nie. Die AU sal intussen vandag in Addis Abeba in Ethiopië vergader om oor die aanvaarding van die Libiese oorgangsregering te besluit. Intussen is daar steeds geen teken van die Libiese leier Muammar Gaddafi nie. ʼn Dagblad berig intussen dat minstens vyf Suid-Afrikaners glo deel was van ʼn span huursoldate wat moes help om Gaddafi en sy gesin die afgelope paar weke te beskerm. Die span het ook glo gehelp om Gaddafi en sy familie uit die land te help ontsnap. Hulle is volgens berigte na Tunisië geneem waar hulle vandaar na ʼn ander buitelandse bestemming geneem sou word. Die Libiese rebelle het Tripoli Sondag binnegeval. Hulle het vroeër die week Gaddafi se kamp in Tripoli binnegeval waar hulle geglo het hy en sy seuns kruip weg. Die konflik in Libië het reeds in Februarie vanjaar begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

Hoe opwindend is die bevryding van Libië!  Tereg spoor NP van Wyk Louw ons aan op die titelbladteks van Lojale Verset:  “Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk as getrouheid.  Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.