‘n Voetganger is Donderdag in Kroonstad in die Vrystaat eers deur ‘n vragmotor omgery en twee motors het toe oor hom gery.
“Die man is op die N1, sowat 5km buite Kroonstad, getref,” het konstabel Werner van Tonder, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê. “Die bestuurder van die vragmotor het die man getref, maar was glo nie daarvan bewus nie.” Twee motors het toe oor die liggaam gery. Hulle het gestop, en die polisie is na die toneel ontbied.
“Die slagoffer is nog nie uitgeken nie. Hy is ‘n swart man en vermoedelik 55 jaar oud. Hy het ‘n groen hemp en swart broek aangehad,” het Van Tonder bygevoeg.