Volkswagen vier een karretjie se 1 miljoen km

David Powels, besturende direkteur van die Volkswagen-groep in Suid-Afrika oorhandig 'n nuwe paneelbord aan Gerrie en Magriet Esterhuizen.

Gerrie Esterhuizen (67), ‘n verkoopsman van Soutpan naby Bloemfontein het reeds 1 miljoen km met sy 2004 Volkswagen Polo afgelê, sonder enige ongeluk of meganiese fout, het Volkswagen SA Maandag gesê.

Dit is verder as ‘n reis maan toe en terug, en soortgelyk daaraan om 25 keer om die aarde te ry.

Esterhuizen en sy vrou, Magriet, het al begin wonder wat sou gebeur wanneer hul karretjie die 1 miljoen km merk tref. “Ná 999 999.9 km wys daar slegs ses koppeltekens, alhoewel die reismeter aanhou werk,” het hy gesê.

Volkswagen SA het Esterhuizen uitgenooi om sy aanleg in Uitenhage te besoek om dié prestasie te vier. Die motor het steeds sy oorspronklike enjin en ander sleutelonderdele.

Die Esterhuizens het noukeurig rekord gehou van die motor se avonture. Die motor het hoofsaaklik tussen die Vrystaat, dele van die Noord-Kaap, Noordwes en Lesotho gery. “Ons reis tot 800km per dag, en spandeer meestal tot 10 ure per dag op die pad om kliënte te sien,” het Esterhuizen bygevoeg.

Volgens Esterhuizen het die miljoen kilometer-reis sowat 66 666 liter petrol verbruik. “Dit is sowat 700 km per 50-liter tenk, 15 km per liter. Teen ‘n gemiddeld van R8/liter (instandhoudingsfooi ingereken) is dit sowat R533 000. Die instandhoudingskoste is te laag om te skat,” het Esterhuizen gesê.

Alhoewel die motor twee petrolpompe moes vervang, is die enjin glo nooit oopgemaak sedert hulle die karretjie by Alan Hudson Motrs in Nelspruit gekoop het nie. “Die koppelaar, knormoer, uitlaatstelsel, vergassingstelsel en oliepomp is oorspronklik. Ek het nog nooit vantevore só ‘n getroue motor gehad nie,” het Esterhuizen bygevoeg.

SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.