Vonnis vir pa wat baba vermoor

Argieffoto

Argieffoto

John Hendricks, die pa wat sy kleuter drie keer op die grond gegooi het omdat hy sy doek vuilgemaak het, is Donderdag vir dié moord gevonnis.

Regter Robert Henney in die Wes-Kaapse hooggeregshof het gesukkel om te beskryf hoe gewalg die hof deur die 25-jarige man se optrede is. Hendricks het ook die tweejarige seuntjie se ma, wat by hom gewoon het, nege maande later aangerand.

Henney sê Hendricks was ten tyde van die moord in Maart 2011 werkloos en het alkohol en dwelms misbruik. Hy sê toe die kleuter ná die voorval stuipe gekry het, moes Hendricks en die seuntjie se ma, Roxanne Groepies, besef het dat hy dringend mediese behandeling benodig. Hulle het hom egter deur die nag laat slaap en het hom eers die volgende dag na die Rooikruis-kinderhospitaal geneem nadat hy weer stuipe gekry het.

Hulle het glo valslik aan personeellede by die hospitaal gesê hy het van ʼn hoë bed af geval.

Die moord kwalifiseer Hendricks vir ʼn minimum vonnis van 15 jaar, maar Hendricks het besluit om ʼn pleitooreenkoms by die saak in te sluit. Ken Klopper, Hendricks se prokureur en die staatsaanklaer, Nadia Ajam, het ooreengekom dat die gewelddadige aard van die moord ʼn vonnis van 18 jaar regverdig.

Henney het egter bevind dat ʼn vonnis van 18 jaar te lig is en dat dit nie die beste belang van ʼn kind reflekteer nie, en dit skiet ook tekort om as ʼn afskrikmiddel te dien. Hy het die vonnis verleng na 22 jaar met ʼn bykomende drie jaar vir die aanranding van die seuntjie se ma.

Klopper het aan die hof gesê Hendricks is bereid om enige vonnis te aanvaar wat die hof hom oplê.

Henney sê Hendricks se gewelddadige optrede teen weerlose mense is ontstellend, maar sy bereidwilligheid om enige vonnis te aanvaar is ʼn teken dat hy voordeel sal trek uit rehabilitasie.

Lees ook:
Hof verwerp pleitooreenkoms van pa wat baba vermoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trudie ·

Bly vir die vonnis. Amper nog te lig vir die dood van ‘n klein kindjie. Veral die manier waarop hy moes sterf. Maar nie vir my om te oordeel nie, hy sal baie tyd hê om te dink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.