Vonnis vir vrou wat oor ontvoering jok

Kateryna Karpovska

Kateryna Karpovska, ‘n vrou van Houtbaai in Kaapstad, sal na verwagting Dinsdag gevonnis word nadat sy oor haar kind se ontvoering gejok het om die losprysgeld te bekom.

Karpovska (39), oorspronklik van Oekraïne, is in Februarie deur landdros Amrith Chabilall in die Bellville-handelsmisdaadhof op drie aanklagte van bedrog ter waarde van sowat R4 miljoen skuldig bevind, het Maroela Media vroeër berig. Op die derde aanklag van bedrog het sy op 2 September 2009 ‘n e-pos aan ‘n vriend gestuur oor die ontvoering, en aangevoer sy het reeds meeste van die sowat $2 miljoen (nagenoeg R18 miljoen), die bedrag wat die ontvoerders eis, ingesamel. Sy het gesê sy kort nog $143 000 (sowat R1.3 miljoen). Sewe van haar Amerikaanse vriende het ingestem om die geld aan haar te stuur.

Nadat sowat R1 miljoen in haar bankrekening inbetaal is, het sy aan haar vriend gesê haar kind is terug by haar.

Karpovska het gesê haar ekskêrel en twee ander mans het haar op 5 Augustus 2009 geboei en teen haar sin aangehou, en geëis dat sy die geld moet kry. Sy het erken dat sy oor die ontvoering gejok het, maar dat die twee mans en haar ekskêrel haar gedwing en geterroriseer het. Die hof het haar weergawe van die gebeure verwerp.

Sy is op drie van die vier aanklagte van bedrog skuldig bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.