Vonnisoplegging vir Vryheid-plaasmoord

Een van Gert Uys (55) se aanvallers is Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gevonnis.

Snenhlanhla Mbatha (33) het Maandag in die hof verskyn en skuldig geplei op moord en gewapende roof. Hy is aan alle klagte skuldig bevind en Dinsdag tot 24 jaar tronkstraf vir die moord en 14 jaar tronkstraf vir gewapende roof gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Mbatha is die derde verdagte wat op 13 Augustus in Secunda, Mpumalanga in hegtenis geneem is, het kaptein Thulani Zwane, woordvoerder vir die polisie in KwaZulu-Natal, gesê. Twee verdagtes, Andries Maviyezulu (28) en Christian Smith (43) is steeds in aanhouding en sal Vrydag in die landdroshof in Vryheid verskyn om aansoek te doen om borg.

Die georganiseerdemisdaad-eenheid van Richardsbaai het ‘n deurbraak gemaak toe hulle twee van die verdagtes vir moord en huisroof in hegtenis geneem het. Maviyezulu en Smith is op 1 Augustus 2012 in Mpumalanga vasgetrek. Die polisie het tydens die inhegtenisneming op twee vuurwapens beslag gelê en dit sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in die moord gebruik is.

Uys is op 31 Julie 2012 omstreeks 12:30 deur twee verdagtes oorval. Hy was in sy plaashuis in Swart-Mfolozi naby Vryheid waar hy lone voorberei het. “Die verdagtes het hom doodgeskiet en met R18 000 kontant, sy rewolwer en Toyota Land Cruiser-voertuig gevlug,” het Zwane gesê. Die voertuig is dieselfde dag op ‘n grondpad by Swart-Mfolozi opgespoor. “’n Saak van moord en huisroof is geopen en Richardsbaai se georganiseerdemisdaad-eenheid het die ondersoek oorgeneem.”

Lt.gen. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale kommissaris, is tevrede met die misdaadeenheid se harde werk. “Ek loof dié toegeweide polisiebeamptes en doen ‘n beroep op hulle om voort te gaan met die, soms ondankbare, taak om kriminele uit ons gemeenskappe te roei,” het Ngobeni gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.