Voorbehoedpille herroep

Nagenoeg 32 miljoen pakkies Cilest-voorbehoedpille word wêreldwyd deur Johnson & Johnson herroep.

Die vervaardiger van Cilest, Janssen Pharmaceuticals wat deel van Johnson & Johnson is, het reeds vrywillig Cilest in Europa, Asië en Suid-Amerika herroep, het Reuters Woensdag berig.

Michelle Romano, ʼn woordvoerder van Johnson & Johnson, het aan Reuters gesê 179 besendings Cilest word herroep omdat ‘n aktiewe bestanddeel tydens ‘n roetine-toets nie aan die “gedefinieerde spesifikasie” voldoen het nie. Volgens mediaberigte het die toets getoon dat een van die twee hormone in Cilest stadiger as wat veronderstel is, vrygestel word. Die pil is in 43 lande beskikbaar, en word nie in die VSA verkoop nie.

Volgens Romano bly die produk steeds veilig en doeltreffend en hou dit geen risiko in vir vroue wat dit gebruik het nie. Die besending wat herroep word, is tydens en ná 2011 vervaardig. Groothandelaars en apteke is in die week van 27 Mei van die besluit in kennis gestel. Die maatskappy het nog nie ʼn formele persverklaring met meer spesifikasies uitgereik nie.

Intussen het ʼn plaaslike direkteur van Cilest aan Sake24 bevestig dat hy van die pille ook in Suid-Afrika wil herroep. “Die groep onderhandel met die medisynebeheerraad hieroor. In Suid-Afrika moet farmaseutiese groepe toestemming by die raad kry om ‘n produk te herroep,” het Abeda Williams, die plaaslike direkteur vir tegniese en medisyne-aangeleenthede by Janssen-Cilag, aan Sake24 gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.