Voorlopige Nkandla-verslag vrygestel

Zuma se Nkandla-woning

Zuma se Nkandla-woning

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het haar voorlopige verslag oor die opgraderings by Nkandla, pres. Jacob Zuma se privaatwoning in KwaZulu-Natal, vrygestel.

“Die verslag is nou aan die staat oorhandig sodat hulle kommentaar kan lewer oor moontlike besware oor sekuriteit,” het Madonsela se kantoor in ‘n verklaring gesê. “’n Spesiale versoek is gerig om toegang te hê voordat die verslag aan die res van die partye voorgelê word, sodat hulle kommentaar kan lewer of dit moontlik die sekuriteit van die president in gedrang kan bring.”

Die kommentaar moet voor 6 November ingedien word.

“Die res van die partye, insluitend respondente en klaers, sal die verslag so gou as moontlik daarna ontvang,” het Madonsela gesê. “Die klaers en sommige van die respondente sal egter slegs die verslag by die Openbare Beskermer se kantoor kan sien, in die teenwoordigheid van lede van die ondersoekspan. Dit sal in Pretoria of Kaapstad plaasvind.”

Haar kantoor het dit benadruk dat die voorlopige verslag vertroulik is. “Sy sal slegs die verslag aan die publiek beskikbaar kan stel nadat kommentaar van alle partye ontvang is, die kommentaar oorweeg en dan, so ver moontlik, by die verslag ingewerk is.”

Die DA en ANC het Woensdag gestry of die voorlopige verslag aan die parlement voorgelê moet word. Die DA is besorg dat dit daartoe kan lei dat slegs ‘n geslote komitee die verslag onder oë sal kry.

Die DA het Madonsela verlede jaar versoek om te bepaal of Zuma se familie onbehoorlik gebaat het deur die opgraderings aan die huis. Zuma het aan die parlement gesê die regering het betaal vir die sekuriteitsopgradering, maar dat hy ‘n verband uitgeneem het om vir die res van die opgraderings te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Susan Botha ·

Ons sal NOOIT die waarheid hoor nie. Dit sal ook onder die mat ingevee word soos AL ons agbare president se flaters en misdade.

Demokraat ·

Natuurlik sal die ANC alles in die stryd werp om die verslag van die opposisie-partye en die breë publiek te weerhou, maar sal aan die einde nie daarin slaag nie – die inhoud sal bekend word al sou dit net dié gedeeltes wees wat verband hou met die onbehoorlike aanwending van staatsgelde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.