Voormalige All Blacks-rugbyspeler vas oor “selfverdediging”-mes

Jerry Collins

Jerry Collins, voormalige All Blacks-flank, is in Japan in hegtenis geneem nadat hy onwettig ‘n kombuismes in ‘n afdelingswinkel by hom gehad het.

Die 32-jarige Collins, wat tussen 2001 en 2008 in 48 internasionale rugbywedstryde vir Nieu-Seeland gespeel het, insluitend die 2003 en 2007 Wêreldbeker, is Saterdag in Hamamatsu in hegtenis geneem, het die polisie van Japan gesê. Volgens mediaberigte, het ‘n sekuriteitswag Collins begin dophou toe hy agterom ‘n verkoopstoonbank gestap het. Toe die sekuriteitswag hom nader, het Collins die 17cm-lange mes uit sy sak gehaal en op die toonbank neergesit.

Dit is egter onwettig om enige wapens in Japan met lemme langer as 15cm by jou te dra sonder toestemming van die polisie.

Collins het aan die polisie gesê hy het die wapen by hom vir “selfverdediging”.

Collins was kaptein in ‘n toetswedstryd teen Argentinië in 2006 en het twee drieë in die 2007-Wêreldbeker gedruk. Hy het in 2011 vir Yamaha Jubilo in Japan se topliga gespeel. Sy tweejaar-kontrak vir dié span het verlede maand verstryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.