Voormalige Atlantis Forge-werkers kry R10 miljoen

Die vakbond Solidariteit gaan Woensdag, ingevolge die Insolvensiewet, nagenoeg R10 miljoen se preferente eise aan die 380 voormalige werknemers van die gelikwideerde Atlantis Forge oorhandig.

Atlantis Forge, ʼn maatskappy wat vragmotoronderdele vervaardig het, is in April 2009 in voorlopige likwidasie geplaas en vroeg in Februarie 2010 finaal gelikwideer nadat die maatskappy nie meer in die destydse ekonomiese klimaat en veral weens die wêreldwye finansiële ineenstorting as ʼn winsgewende maatskappy in die motorindustrie kon handel dryf nie.

Volgens Nic Arnold, hoof van Solidariteit Regsdienste, sal die uitbetalings ʼn welkome verligting voor Kersfees vir die 380 voormalige werknemers van die maatskappy wees. “Ons doen ʼn beroep op voormalige werknemers om hulle tjeks Woensdag tussen 09:00 en 15:00 by Atlantis Forge se perseel te kom afhaal. Tjeks sal slegs aan voormalige personeellede wat ʼn geldige rybewys of identiteitsdokument kan toon, oorhandig word.”

“Solidariteit het destyds ʼn voedingskema begin nadat die maatskappy in likwidasie geplaas is ten einde die nood te help verlig. Intussen het die likwidateurs verskeie pogings aangewend om met voornemende kopers te onderhandel, maar geen aanvaarbare aanbod is ooit gemaak nie. Pogings om die maatskappy se bates aan ʼn derde party te verkoop en om die aanleg operasioneel te hou, het ook misluk. Die verkoop van die roerende bates aan die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het 21c in die rand opgelewer wat nou aan die werknemers betaalbaar is vir hulle preferente deel van die eis ingevolge die Insolvensiewet,” sê Arnold.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.