Voormalige Bafana Bafana-speler sterf

Keryn Jordan

Keryn Jordan

Keryn Jordan, voormalige Suid-Afrikaanse sokkerspeler, is Maandagoggend in Pretoria oorlede na ʼn lang stryd met kanker.

Jordan en sy gesin het in 2004 na Nieu-Seeland verhuis waar hy doele vir Auckland City aangeteken het. Hy het altesaam 61 doele in 79 wedstryde vir die klub aangeteken voordat hy in 2010 weens ʼn kniebesering moes uittree.

Hy het sy loopbaan by Supersport United begin voordat hy na die Manning Rangers geskuif en tydens die 1997/98-seisoen die goue stewel vir 11 doele behaal het. In 2003/04 was hy ook die voorloper met agt doele.

Jordan (37) het vroeër vanjaar na Suid-Afrika teruggekeer om met sy behandeling voort te gaan.

Gordon Igesund, breier van Bafana Bafana, het Jordan beskryf as ʼn speler wie se bydrae op die veld die lewens van talle mense aangeraak het. “Ek is baie hartseer om van dié voormalige Bafana Bafana-speler se afsterwe te hore te kom,” het Igesund gesê. “Keryn het op die veld 100% vir sy span gegee en dit is glad nie verbasend nie dat hy een van slegs ʼn handjievol Suid-Afrikaanse spelers is wat by die FIFA-klub se wêreldbeker kon speel.”

“Hy het duisende mense se lewens in Suid-Afrika en Nieu-Seeland aangeraak weens die dapper poging wat hy aangewend het om sy kanker te beveg. Hy was vir talle mense ʼn inspirasie.”

Jordan laat sy vrou Sherri, en seuntjie Liam agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.