Voormalige Vodacom-baas getuig in Please Call Me-saak

Vodacom se Please Call Me-diens was Dinsdag in die spervuur toe Alan Knott-Craig, die voormalige uitvoerende hoof van Vodacom, in die hooggeregshof in Johannesburg getuig het.

In Knott-Craig se biografie, Second is Nothing, skryf hy dat hy op sy balkon gestaan het toe hy gesien het hoe twee veiligheidswagte probeer om te kommunikeer. Een wag het die ander een ʼn “missed call” gegee om sy aandag te trek. Dit is glo toe dat die Please Call Me-idee by hom opgekom het en hy die konsep etlike minute daarna met senior bestuurders bespreek het, het The New Age Woensdag berig.

Knott-Craig is die hoofgetuie in ʼn siviele eis wat deur ʼn voormalige Vodacom-werker, Nkosana Makete, teen Vodacom gemaak is. Makete soek vergoeding aangesien hy beweer dat hy die Please Call Me-idee uitgevind het.

Cedric Puckrin, Makete se prokureur, het Knott-Craig oor die uitvinding ondervra. Knott-Craig ontken dat hy erkenning vir die uitvinding aanvaar het.

Puckrin het ook ʼn e-pos aan die hof voorgehou wat in Maart 2001 aan al Vodacom se werknemers gestuur is, waarin Makete gelukgewens word omdat hy met die idee vorendag gekom het.

Knott-Craig ontken dat hy ooit dié e-pos gesien het. Hy het ook gesê dat nie hy of enigiemand by Vodacom ontken dat Makete met die idee vorendag gekom het nie, maar het wel gesê dat Makete nie geregtig is op vergoeding vir die konsep nie.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.