Voornemende bruid dood, strooijonker vermis ná boot-ongeluk

Lindsey Stewart en Brian Bond Foto: Facebook

Die liggaam van Lindsey Stewart, ‘n voornemende bruid, is in die water opgespoor nadat sy en ‘n strooijonker vermis geraak het toe hul boot Vrydagaand op die Hudson-rivier in New York, Amerika, teen ‘n vragskip gebots het.

Vier mense word steeds in die hospitaal behandel. Die soektog is Saterdag om 17:00 plaaslike tyd gestaak en sal vroeg Sondagoggend voortduur, berig KTLA5.

Jojo K. John (35), die operateur van die boot, is in hegtenis geneem.

Stewart se liggaam is suid van die brug sonder ‘n lewensreddingsbaadjie opgepoor, het Robert van Cura, woordvoerder van die polisie in Rockland County, Saterdag gesê. Die polisie soek nog steeds na Mark Lennon, die voornemende strooijonker.

Die kuswag het gesê ses mense was aan boord ‘n 6m-lange Stingray-boot naby Piermont in New York toe die boot ‘n vragskip Vrydagaand omstreeks 22:40 plaaslike tyd naby Tappan Zee-brug getref het.

Stewart (30) sou op 10 Augustus getrou het. Lennon sou die strooijonker gewees het.

Die voornemende bruidegom, Brian Bond (36) is een van die vier beseerde passasiers wat met ernstige beserings, insluitend kopbeserings en gebreekte bene, in die Westchester-hospitaal opgeneem is. Van die beseerdes is wakker en verskaf tans inligting aan ondersoekbeamptes. Bond kan egter, weens sy beserings, nie praat nie, het die bruid se stiefpa, Walter Kosik, gesê.

Alhoewel dit reeds donker was toe die ongeluk plaasgevind het, was die vragskip verlig, het die polisie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AJ van Dort ·

Die opskrif en die volgende 2 frases klop nie:
“Die polisie soek nog steeds na Mark Lennon, die voornemende strooijonker.”
“Die voornemende bruidegom, Brian Bond (36) is een van die vier beseerde passasiers wat met ernstige beserings, insluitend kopbeserings en gebreekte bene, in die Westchester-hospitaal opgeneem is.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.