Vorster glo uit bank agtervolg

Louis Vorster

Die polisie in Gauteng sê die moord op die voormalige Suid-Afrikaanse en Namibiese krieketspeler Louis Vorster (46) hou moontlik verband met ʼn sindikaat wat mense in ʼn bank dophou, agtervolg en dan beroof.

ʼn Polisiewoordvoerder, lt. kol. Tshisikhawe Ndou, sê die polisie soek tans na twee mans wat Vorster glo agtervolg en vermoor het. “Daar is identikits uitgereik van die bestuurder van die motor waarin hul gevlug het…sowel as van verdagtes wat op kringtelevisie-kameras vasgelê is.” Vorster is op 17 April by ʼn Total-vulstasie in Muldersdrift doodgeskiet. Hy was glo op pad om die vulstasie te verlaat toe ʼn Volkswagen met twee passasiers se weg blokkeer het. Een van die mans het glo uitgeklim en Vorster doodgeskiet terwyl die ander man na die passasierskant van die motor geloop en ʼn sak wat glo op die sitplek was gegryp het. Volgens berigte het Vorster ʼn groot bedrag geld getrek by ʼn nabygeleë winkelsentrum voor hy by die vulstasie gestop het. Die twee mans het Vorster glo van die winkelsentrum agtervolg. In Namibië is daar berig dat vorster en sy vrou, Rika, vir ʼn paar dae na Suid-Afrika gekom het om twee kragopwekkers vir sy besigheid te koop. Vorster het hom glo sowat ses jaar terug in Namibië gevestig waar hy met wild en beeste geboer en ook ’n kolemakery bedryf het.

Die polisie het die foto van kringtelevisie-kameras vrygestel. Die twee mans het vorster glo van die bank tot by die vulstasie agtervolg en toe beroof en vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.