Vrae ná DBV 41 dwergkees-hondjies moes uitsit

Argieffoto

Vrae word gevra hoekom die DBV van Vereeniging nie vroeër ingetree het om 55 dwergkees (toy pom)-hondjies van haglike omstandighede te red nie.

Maroela Media het Dinsdag berig die Vereeniging-DBV moes Maandag 41 van 55 dwergkees-hondjies van kant maak nadat hulle van ʼn agterplaasteler in Riversdale gekonfiskeer is. Die diere was in ʼn slegte toestand en was erg verwaarloos. Die meerderheid van die honde het glad nie tande gehad nie as gevolg van swak higiëne en ʼn slegte dieet. Lees meer hier.

Die eienaar is verskeie kere besoek, opgelei en gewaarsku om die diere se omgewing reg te ruk, maar sy het nie ag daarop geslaan nie. Sy wou ook nie saamwerk toe die diere gekonfiskeer moes word nie en die DBV moes die Meyerton-polisie ontbied om te help.

Marlien Pieterse, die Vereeniging-DBV se bestuurder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die DBV moet eers die eienaar opvoed in die vorm van waarskuwings voor diere verwyder kan word. “Soms neem ons diere weg sonder om waarskuwings te gee, maar dan is dit baie ernstige sake. Die landdros sal nie ʼn hofbevel uitreik sonder dat ons die mense opgevoed het nie en ons sal ook nie ʼn kriminele saak in die hof wen daarsonder nie,” het sy gesê.

Die eienaar gaan van dieremishandeling in terme van die dierebeskermingswet en dwarsboming van die gereg aangekla word. Pieterse het gesê die 14 hondjies wat gered kon word sal eers beskikbaar vir aanneming wees nadat die hofsaak afgehandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.