Vrae oor Boston-ontploffings

Foto: John Tlumacki/The Boston Globe/AP

Kenners krap steeds kop oor wie agter die Bostonse bomontploffings sit, en wat die rede daarvoor kan wees.

Die Bostonse Christian Science Monitor, ‘n gehaltekoerant, was vinnig uit die blokke met ‘n ondersoekende artikel.

Daar is kenmerke van beide die moontlikheid dat dit die werk van ‘n individu was, of ‘n groep wat selfs moontlik bande met Al Kaïda sou kon hê.

Die koerant wys daarop dat dit gister in Amerika die afsnydatum was vir die indiening van belastingopgawes. In Massachusetts is “Patriot’s Day” ook gister gevier – ‘n herdenking van die veldslae van Lexington en Concord tydens die Amerikaanse vryheidsoorlog.

Dit, en die feit dat daar geen “chatter” op die netwerke was wat op ‘n aanval kon dui nie, dui op die waarskynlikheid van ‘n individu, wat ‘n “lone wolf” genoem word.

Die koerant meld voorts dat die aanvalle in Noorweë deur die massamoordenaar, Aders Breivik toon dat sulke aanvalle deur ‘n individu of ‘n klein groepie heel moontlik is.

Massaslagtings deur onstabiele individue kom ook gereeld in Amerika voor.

Die keuse van die teiken wat baie bloedvergieting en baie publisiteit sou beteken, is egter ook kenmerkend van Al Kaïda. Nie alle Al Kaïda-aanvalle gaan met “chatter” plaas nie, onder meer weens die selstruktuur waar daar nie ‘n spesifieke opdrag kom om aan te val nie – die aanvalle word bloot op plaaslike vlak uitgevoer wanneer die “regte” geleentheid hom voordoen.

Die moontlikheid dat regse ekstremiste agter die aanvalle kan sit, word ook nie buite rekening gelaat nie. Ook sulke aanvalle, en veral regse groepe wat sulke aanvalle beplan maar voor enige skade aangerig word aangekeer word, kom ook periodiek in Amerika voor.

Pres. Barack Obama het self ook aangedui dat die veiligheidsdienste nog nie weet wie agter die aanvalle sit nie. Hy het gesê die moontlikheid van ʼn terreuraanval word ondersoek en het beloof dat daar vasgestel sal word wie hiervoor verantwoordelik is en dat die skuldiges sal boet.

Lees ook:
Twee Suid-Afrikaners beseer in Boston-ontploffing
Video en foto’s: Drie dood, honderde beseer in Boston-bloedbad
Derde ontploffing nie verwant aan Boston-marathon
Boston-marathon: SA’ners wat glo deelneem
Boston-marathon: Derde ontploffing bevestig
Foto’s en video: Ontploffings by Boston-marathon

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.