Vrae oor verslag wat sê Kaap gevaarliker as JHB

Die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) het Dinsdag die geloofwaardigheid en waarde bevraagteken van ʼn Mexikaanse organisasie se verslag wat beweer Kaapstad is die gewelddadigste stad in Afrika.

ʼn Senior navorser oor misdaad aan die Instituut, dr Johan Burger, sê hulle gaan die verslag nie te ernstig opneem nie. “Ons is skepties en bevraagteken die waarde wat dit tot enigiets bydra. Die simplistiese tipe van vergelyking kan alle tipes persepsies tot gevolg hê.” Die 2011 Citizen Council for Public Safety and Criminal Justice-verslag grond sy lys van die gevaarlikste stede ter wêreld op ’n moordsyfer per 100 000 van die bevolking. Kaapstad is in die 34ste plek terwyl die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (wat Port Elizabeth bedien) 41ste is, Durban 49ste en Johannesburg 50ste. Mosoel in Irak is in die 44ste plek. San Pedro Sula in Honduras word as die gevaarlikste stad in die wêreld beskou. Burger sê dit is onvanpas om moord as ʼn aanduider van misdaad te gebruik. “Meer as 80% van moorde vind plaas in armer gemeenskappe tussen mense wat mekaar ken.” Burger sê Suid-Afrika is ook van die min Afrika-lande wat misdaadsyfers bekendmaak. Die ISS het die akkuraatheid van die verslag se statistiek bevraagteken en sê dit is moeilik om ʼn vergelyking te tref van misdade in metropolitaanse gebiede. Die Suid-Afrikaanse polisiediens se statistiek fokus op ʼn nasionale en provinsiale vlak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.