Vragmotor bars deur PMB-huis

Foto deur die gebruiker @paulknoesen op Twitter gelaai

‘n Huis in Pietermaritzburg sal ten volle herbou moet word nadat ‘n groot afleweringsvragmotor Vrydag in die huis vasgejaag het.

Volgens die Weekend Witness het die bestuurder, Basil Chislett, die vragmotor laat luier toe hy geld by ‘n OTM gaan onttrek het. Die vragmotor met ‘n vrag vol suiker het agteruit by die afdraende afgerol, ‘n straatlig getref, ‘n hek getref, ‘n geparkeerde voertuig buite die huis getref en toe deur die huis gebars. Chislett sê hy kan nie verduidelik wat gebeur het nie. “Ek het ‘n harde slag gehoor en omgedraai, die vragmotor was besig om weg te rol, ek het hom probeer vang, maar dit was te laat,” het Chislett gesê.

Die eienaars van die huis was met vakansie en ‘n vriend, Jade James, het na die huis omgesien. Sy was in die huis toe die voorval gebeur het. James het aan die Weekend Witness gesê sy was in die kombuis besig om ontbyt voor te berei toe sy ‘n slag gehoor het. “Ek het by die kombuisvenster uitgekyk en was geskok om die vragmotor, sonder ‘n bestuurder, in die erf te sien aankom,” het sy gesê. “Ek het die venster met my hand gebreek en uitgespring. Ek het rondgehardloop en die honde gesoek. Dit is ‘n wonderwerk dat ek nie beseer is nie.”

Die eienaar van die huis het geweier om oor die voorval te praat.

Die vragmotorbestuurder staar aanklagte van roekelose en nalatige bestuur in die gesig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.