Vragmotorbestuurder doen snikkende bekentenis

hofhamertjie3Die man wat die vragmotor bestuur het wat verlede Julie tussen Malelane en Hectorspruit voor ’n trein beland het, het vandag snikkend in die rondgaande hooggeregshof in Nelspruit skuld erken op 24 klagte van strafbare manslag en nalatige bestuur.

George Mandlanzi (33) se regsverteenwoordiger, Melanie Erasmus het ’n pleitskrif voorgelees waarin Mandlanzi die ongeluk van 13 Julie 2012 beskryf: “Ek het nie by die kruising gestop nie. Ek het nie die trein gesien nie en het ook nie gekyk nie. Ek het reeds die kruising begin oorsteek toe ek die toeter hoor en toe het die ongeluk gebeur wat tot die sterftes en beserings gelei het. Ek is baie jammer.” Mandlanzi het die inhoud van die pleitskrif snikkend bevestig waar hy langs sy ma in die hof gesit het.

Mandlanzi was met 47 seisoenale plaaswerkers van Malelane na Hectorspruit onderweg toe die ongeluk by ’n spoorkruising plaasgevind het. Negentien mense is op die ongelukstoneel dood en nóg vyf onderweg na die hospitaal. ’n Verdere 23 mense is in die ongeluk beseer.

Die staat het Mandlanzi se pleitskrif aanvaar en hom skuldig bevind aan strafbare manslag. Mandlanzi sal Woensdag weer in die hof verskyn wanneer argumente rondom sy vonnisoplegging aangehoor sal word.

Bron: Sapa-korrespondent

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trippie ·

Enige persoon wat na die video-greep gekyk het, kon sien hy het NIE gestop nie. Dan het hy aanvanklik nog gelieg ook. Nee man, jy moet maar jou straf dra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.