Vragskip weer ter see gelaat

Kiani Satu Foto: theguardian.com

Die vragskip wat verlede week naby Buffelsbaai in Knysna gestrand het, dryf weer, het die SA Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) Saterdag gesê.

“Sy het omstreeks 11:20 weer begin dryf,” het kapt. Nigel Campbell, woordvoerder vir Samsa, gesê. “Ek is vreeslik bly.”

Die 168m-lange vragskip, die Kiani Satu, het verlede week Donderdag op ‘n sandbank beland en die kaptein en sy bemanning moes die skip ontruim. Die skip het in rowwe seetoestande meganiese probleme ondervind met sy vrag van 330 ton olie en 15 000 ton rys.

Die Knysna-munisipaliteit het Vrydag gesê hy beplan om sowat 600kg bederfde voorraad van die skip te verwyder. Athane Scholtz, woordvoerder vir die gesamentlike taakspan, het gesê die kos kan nie meer verbruik word nie.

Samsa het Donderdag olie uit die skip se enjinkamer na hoër gedeeltes van die skip gepomp. Daar is geen verdere berigte oor olie in die water of ‘n olielek aan die skip nie.

“Voorbereidingswerk vir ‘n reuse skoonmaak sal eers gebeur sodra die skip verwyder is,” het Scholtz gesê. Sy verwag dat die skoonmaakwerk ‘n paar weke lank sal duur.

Voorkomingsmaatreëls is in plek gestel om die vleilande by Goukamma, Swartvlei en Knysna te beskerm. Scholtz sê 35 pikkewyne, wat vol olie was, is gered, skoongemaak en vir rehabilitasie gestuur. Daar is geen berigte van voël- of dier-sterftes naby die skip nie.

Die taakspan bedank inwoners van die Tuinroete en die Wes- en Oos-Kaap vir hul donasies en hulp.

Lees ook:
Foto’s: Olie word steeds uit gestrande skip gepomp
Gestrande skip binnekort verwyder
Gestrande vragskip lek olie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.