Vredefortkoepel dalk status as oudste impakkrater op aarde kwyt

Kunstenaarsvoorstelling: Carsten Egestal Thuesen, GEUS

‘n Impakkrater aan die suidweste van Groenland is waarskynlik sowat 3 miljard jaar oud – amper ‘n miljard jaar ouer as die Vredefortkoepel in Suid-Afrika wat nog spook om alles in plek te kry wat sy wêreld-erfenisstatus vereis.

Die Groenlandse impakkrater is sowat ‘n 100 kilometer in deursnee, en naby die dorpie Maniitsoq geleë. Die wetenskaplikes wat die vonds ondersoek het, meen ‘n meteoriet van 30 kilometer in deursnee het die aarde destyds getref.

Die krater is in ‘n kantoor in Denemarke “ontdek” waar die wetenskaplike Adam Garde kaarte bestudeer het wat hoë voorkomste platinum en nikkel aangedui het.

Die huidige oppervlak is sowat 25 kilometer onder die oppervlak van destyds, wat sedertdien weggeërodeer het.

Dit het die wetenskaplikes byna drie jaar geneem om hul portuuroorsig-vennote te oortuig.

Die vonds maak sin omdat beraam word dat baie van die indrukwekkende impakkraters op die maan tussen drie en vier miljard jaar gelede gevorm het. Die aarde, met sy groter aantrekkingskrag, sou nog meer ruimtevoorwerpe getrek het, maar erosie op aarde het baie van die spore uitgewis.

Die artikel verskyn nou in die joernaal Earth and Planetary Science Letters.

Die meteoriet wat die aarde by Vredefort getref het, was na raming 5 – 10 kilometer in deursnee. Die Vredefort-krater se deursnee is tussen 250 en 300 kilometer, dus aansienlik groter as die Groenlandse krater. Die Vredefort-krater bly dus die grootste bekende krater ter wêreld. Die impak het na raming sowat 2,023 miljard jaar gelede plaasgevind.

Volgens verskeie bronne was die Vredefortkoepel in ieder geval nie die oudste voor die Groenlandse ontdekking nie. Sommige bronne gee die Suavjärvi, ‘n meer in Rusland, as ietwat ouer aan, maar die ouderdom word nog wyd betwis en die meeste bronne dui sy ouderdom heelwat jonger aan.  Ook die Dhalakrater van 11 kilometer in deursnee in Indië kan volgens sommige bronne ietwat ouer as die Vredefortkoepel wees, maar die meeste gesaghebbende bronne stel sy ouderdom ook veel jonger.

Bronne:

http://www.space.com/16366-oldest-meteorite-crater-earth-found.html

http://www.sciencedaily.com/releases/2012/06/120628164658.htm

http://en.wikipedia.org/wiki/Vredefort_crater

http://en.wikipedia.org/wiki/Dhala_crater

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.