Vreemde voorwerp in Jeffreysbaai: Raaisel opgelos

Die voorwerp van Dinsdag uitgespoel het. FotoL Rieghard Janse van Rensburg , RRAD Photography.

Die Maritieme Reddingskoördinasiesentrum (MRCC) het Woensdag bevestig dat ʼn totaal van vyf silindriese houers, waarvan een Dinsdag naby Jeffreysbaai uitgespoel het, oor die naweek van ʼn Chinese skip afgespoel is.

Maroela Media het gister berig dat die silinder aanvanklik eers met ʼn gestrande walvis verwar is.

Volgens die MRCC is die houers van die skip, Anguan Gjing, wat van Durban na Nigerië onderweg was. Die houers het tussen Port Elizabeth en St Francisbaai in erge stormseetoestande oorboord gespoel.

“Waarskuwings is per radio aan seevaartuie in die omgewing uitgestuur om op die uitkyk te wees vir die silinders, aangesien dit ʼn gevaar vir hulle kan inhou sou hulle daarteen bots,” het die MRCC gesê.

Die polisie het Woensdag die kuslyn patrolleer en op nóg drie van die silinders afgekom. Een silinder word nog vermis en mag moontlik nog in die see dryf, of het moontlik in ʼn afgeleë gebied uitgespoel.

Die MRCC het bevestig dat al vyf die houers leeg is en geen gevaar vir die omgewing inhou nie.

Owerhede moet nog besluit hoe om van die houers ontslae te raak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.