Die liggaam van ʼn 60-jarige vrou is in haar huis in Framesby in Port Elizabeth gekry.
ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Sandra van Rensburg, sê Ruey Lien Lynn het verskeie steekwonde opgedoen. Van Rensburg sê die polisie vermoed die motief vir die moord was diefstal aangesien die vrou se selfoon, skootrekenaar en kamera vermis word. Lynn se liggaam is omstreeks 19:00 Maandagaand deur haar broer gekry nadat hy onraad vermoed het toe hy haar nie in die hande kon kry nie.