Vrou bel polisie omdat sy glo eensaam is

Fleurette French

Fleurette French, ‘n 64-jarige vrou van Vero Beach in Florida, Amerika, het glo ‘n paar keer die 911-noodnommer geskakel omdat sy eensaam was.

‘n Beampte van die polisie sê French het op 30 Maart omstreeks 20:00 die noodnommer geskakel om ‘n mediese toestand aan te meld en aangedui dat sy alkohol gebruik het. Die beampte sê die vrou het nie in enige ooglopende nood verkeer nie.

Nooddienspersoneel is na haar huis ontbied en met hulle aankoms het sy erken sy het die nommer slegs geskakel omdat sy “eensaam” was. Sy is na ‘n hospitaal geneem. Ondersoekbeamptes het bepaal dat French die 911-nommer vyf keer tussen 22 Maart en 30 Maart geskakel het. Sy was telkens onder die invloed van alkohol, en is telkens na ‘n hospitaal geneem.

Dokters het bepaal dat sy geen mediese toestand onderlede het nie. Sy is van misbruik van die noodnommer aangekla.

In 2010 is ‘n vrou van Ohio in Amerika aangekla nadat sy herhaaldelik 911 geskakel het om die beamptes op afsprake uit te vra. ‘n Man van Oklahoma het in Mei 2012 glo 17 keer op een dag die noodnommer geskakel in ‘n poging om sekspraatjies met die operateurs aan te knoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.