Vrou deur eks aan die brand gesteek, oorleef

Die voorval is op die winkel se kringtelevisiekamera vasgelê

Naomie Breton (33) is Maandag omstreeks 03:00 met petrol begiet en in ʼn 7-Eleven-winkel aan die brand gesteek.

Dié gewelddadige voorval is op die winkel se kringtelevisiekamera vasgevang, berig Sowetan Live. Haar gewese kêrel, Roosevelt Mondesir (59) is in hegtenis geneem vir poging tot moord. Breton, ʼn enkelouer van Florida, Miami in die VSA, het Mondesir by die 7-Eleven ontmoet waar hulle toesig oor hul 4-jarige seuntjie sou verruil het. Die seuntjie, wat onder Mondesir se toesig was, was egter nie by die ontmoeting nie.

Weens ʼn geskiedenis van beweerde geweld tussen Mondesir en Breton, het Breton begin aanstaltes maak om te vertrek. Mondesir het hierop glo ʼn petrolkan uit sy Jaguar-motor gegryp en die brandstof oor die vrou begin giet.

Roosevelt Mondesir Foto: Facebook

Die film op die kringtelevisie wys hoe die bedruipte vrou in die winkel storm en haar liggaam gebruik om die deur toe te hou. Maar Mondesir, gewapen met ʼn lang mes, het die deur opforseer. Hy het glo die vrou aan die brand gesteek terwyl sy weggehardloop het.

Die polisie het Mondesir omstreeks 05:45 Maandagoggend in nabygeleë bosse vasgetrek. Hulle het die mes en die petrolkan in sy motor opgespoor. Mondesir het Dinsdag in die hof verskyn en die regter het sy borgaansoek van die hand gewys. Hy het ook Mondesir se versoek om ʼn staatsverdediger te kry geweier, aangesien Mondesir se inkomste glo te hoog is.

“Ek het net gesien ek is aan die brand,” het Breton gesê. “Ek dank God ek lewe, want as ek na die foto kyk, is ek nie veronderstel om hier te wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.