Vrou gevang wat polisieman wou omkoop

‘n 28-jarige vrou van KwaZulu-Natal is Saterdag in hegtenis geneem nadat sy glo probeer het om ‘n polisiebeampte vir R30 000 om te koop.

Volgens kaptein Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het die vrou ‘n speurder van KwaMakhutha genader en hom gevra of hy ‘n moorddossier vir haar sal steel. Sy het hom R30 000 aangebied om dié dokument, waarin haar broer as ‘n verdagte aangewys word, te steel.

Die speurder het ingestem en hulle het ‘n vergadering geskeduleer waar hy die dossier aan haar sou oorhandig en sy hom R30 000 sou betaal. Die oomblik toe sy egter die geld oorhandig, het die speurder haar in hegtenis geneem.

Die saak handel oor die moord van Alfred Sthenjwa Njapha, wat op 15 Desember 2011 vermoor is. Drie verdagtes het glo na sy huis gegaan en R70 000 stokvel-geld gesteel. Hulle het hom glo ook ontvoer en na Ngonyameni gery waar hulle hom doodgeskiet het. Die polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem en die vrou se broer was glo die enigste verdagte wat hulle nog nie gevang het nie.

Die vrou sal binnekort voor die landdros verskyn en sy staan tereg op ‘n aanklag van poging tot omkopery van ‘n polisiebeampte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.