Vrou gevonnis wat glo oud-Blou Bul wou vermoor

Die oud-Blou Bul-rugbyspeler, Deon Helberg.

Manda Reyneke, wat daarvan beskuldig is dat sy twee mans gehuur het om die oud-Blou-Bul-rugbyspeler, Deon Helberg, te vermoor is Maandag in die Pretoriase streekshof gevonnis.

Reyneke (47) is tot drie jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy voortgaan met sielkundige berading en onder die toesig van ʼn proefbeampte bly. Haar regsverteenwoordiger, Jacques Beetge, sê Reyneke moet ook 16 uur per maand, vir die volgende ses maande, skoonmaakwerk verrig by die Pretoriase vrouegevangenis. Beetge sê hulle is tevrede met die uitspraak. Reyneke het Maandagoggend skuld beken op aanklag dat sy persone aangestig het om ‘n misdryf te pleeg. Reyneke het na bewering twee Nigeriërs gehuur om Helberg te vermoor. Die polisie is egter hiervan in kennis gestel en Reyneke is in hegtenis geneem. Reyneke het in die hof aangevoer dat sy ʼn seksuele verhouding gehad het met Helberg en dat dit haar ontstel dat hy en sy familie dit ontken. Helberg het vroeër ʼn verhouding met Reyneke se dogter gehad. Beide Helberg en Reyneke se dogter het die hofverrigtinge bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.