ʼn 10-jarige kind en ʼn vrou is Saterdagaand dood nadat hul voertuig teen ʼn bussie in Pietermaritzburg gebots het.
Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, sê die ongeluk het omstreeks 18:30 in Edendaleweg in die omgewing van die Henleydam plaasgevind.
“Dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie, maar die impak van die ongeluk het veroorsaak dat die bussie, vol passasiers, omgeslaan het. Die vrou en kind het saam ʼn manlike bestuurder in ʼn VW Golf gery. Die Golf is heeltemal in die botsing verwoes,” het Jackson gesê.
Volgens Jackson was die kind reeds dood toe paramedici op die toneel gekom het. Die man en vrou was in ʼn kritieke toestand en hul liggame was in die wrak vasgekeer. Nadat die man se liggaam uit die wrak gesny is, is hy na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Die vrou se toestand het erg verswak nadat sy uit die wrak gesny is, en sy is later op die toneel dood verklaar.
Vyf van die passasiers wat in die bus was, het geringe beserings opgedoen en is na die hospitaal geneem.