Vrou kry muis in brood

Julia Lottering, ʼn huisvrou van Port Elizabeth, het ʼn nare ervaring gehad toe sy ʼn toebroodjie met vars brood wou maak en op ʼn dooie muis daarin afgekom het.

Lottering van Sanctor, Bethelsdorp, het die muis in ʼn Sasko-brood gekry, het The Sowetan Donderdag berig. Die brood is glo by Shoprite in die Clearypark-winkelsentrum gekoop.

“Ek het die oggend gimnasium toe gegaan en op pad terug die brood by die Shoprite gekoop. Die brood was saam ander brode in ʼn krat op die grond. Ek het net een gevat en dit gaan betaal,” het Lottering gesê.

Sy het teen 11:00 honger geword en besluit om ʼn toebroodjie te maak. Sy het drie snytjies uitgehaal en toe gesien daar is swart kolletjies op ʼn snytjie. Lottering het Sylvia Booito, haar huishulp, gevra om saam met haar die res van die brood te deursoek.

“Sylvia is brawer as ek. Sy het deur die res van die snytjies gegaan en die dooie muis in die middel van die brood gekry. Dit wil voorkom of die muis deur die sakkie geknibbel het, want daar was ʼn klein gaatjie aan die kant. Ek het my dood gegril en dit gaan ʼn geruime tyd wees voor ek weer brood sal eet,” het sy gesê.

Sy sê dit wil nie voorkom of die muis saam met die brood gebak is nie.

Reinette Greyling, Sasko-bakkery se gehaltebestuurder, wou nie oor die voorval kommentaar lewer nie. Nathan Whitebooi, die bestuurder van die betrokke Shoprite, was nie van die voorval bewus nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.