Die hooggeregshof in Pretoria het ʼn vrou, wat glo haar maatskappy se geld gebruik het om aanlyn te dobbel, beveel om R2,3 miljoen aan die niewinsgewende organisasie terug te betaal, berig die Saturday Citizen.
Volgens die berig is die bevel teen Lizette Stassen gemaak ten gunste van haar voormalige werkgewer OUT, ʼn niewinsgewende gay-regte-organisasie. OUT het aan die koerant gesê Stassen het skuldig gepleit op die 174 aanklagte van bedrog en diefstal teen haar. Stassen het van 2006 af vir die organisasie gewerk maar het in 2012 bedank nadat die bedrog aan die lig gekom het. Die organisasie beweer dat Stassen tussen 2007 en 2010 meer as R2,6 miljoen van hulle geld spandeer het deur tjeks te vervals en internetbetalings aan haarself te doen. Sy het glo ook die organisasie se kredietkaart gebruik om aanlyn te dobbel en vakansies te bespreek. Stassen het glo erken dat sy die geld gesteel het maar weier glo om dit terug te betaal. Sy sal na verwagting volgende week gevonnis word, aldus die berig
SAPA