Vrou moet R4 miljoen aan Kapenaar terugbetaal

Kateryna Karpovska

Kateryna Karpovska van Oekraïne wat ‘n bejaarde man glo oorreed het om R4 miljoen by die bank in Oekraïne te belê, maar toe die geld vir haarself gehou het, is Woensdag deur die Bellville gespesialiseerde misdaadhof sewe maande gegun om die geld terug te betaal of tronkstraf in die gesig te staar.

Landdros Chabilall het gesê Karpovska was in ‘n romantiese verhouding met die man en die metode wat sy gebruik het om hom te mislei is ‘n skande. Hy het haar agt jaar tronkstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat sy die geld teen 28 Februarie moet terugbetaal.

Pieter du Toit, prokureur vir die verdediging, het gesê volgens landdros Chabilall is sy in staat om die geld terug te betaal.

Karpovska is boonop tot drie jaar huisarres gevonnis en aangesê om gemeenskapswerk te verrig as ‘n skoonmaker by die Tafelsig-polisiestasie.

Chabilall sê Karpovska kwalifiseer vir die minimum vonnis van 15 jaar, aangesien dit haar eerste oortreding is vir bedrog van R500 000 of meer. “Die enigste ding wat haar red is dat haar kinders saam met haar in Suid-Afrika is,” het Chabilall gesê. “Om haar tronk toe te stuur sal hulle in ‘n vreemde land en sonder ondersteuning laat. Dit is die enigste rede wat verhoed dat ek 15 jaar tronkstraf oplê.”

Karpovska is deur die gesamentlikeaandele-handelsbank in Oekraïne, beter bekend as Imexbank, as hoof verteenwoordigende beampte (HVB) aangestel by die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB).

Sy is op vier aanklagte van bedrog, een oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad en een oortreding van die Raad op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste skuldig bevind. Volgens die klagstaat het die bank uiteindelik sy verteenwoordigerskantoor in Maart 2008 gesluit. Karpovska het die SARB egter nie hiervan in kennis gestel nie en sy het steeds as Imexbank se HVB bly werk.

Sy het in die bedrogklag die man oortuig dat sy Imexbank se HVB is en dat sy ook die bank se hoof welvaartsbestuurder is.

“Dit is ‘n skande dat ‘n vrou so iets aan ‘n man, wat maklik vertrou, kon doen,” het Chabilall gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.