Vrou moet vergoed word na verkeerde diagnose

Stethoscope-DoctorDie departement van gesondheid moet ʼn vrou wat verkeerdelik met borskanker gediagnoseer is en ʼn dubbele mastektomie ondergaan het, skadevergoeding van R2,8 miljoen betaal, berig die Saturday Star.

Estelle Kunneke het in 2005 ʼn knop op haar bors gevoel nadat sy geval het. Sy het ʼn dokter by die Voortrekker-hospitaal in Mokopane geraadpleeg waarna sy na die onkologie-afdeling van die Limpopo Akademiese-hospitaal verwys is. ʼn Algemene praktisyn onder die dekmantel van ʼn onkologie-spesialis het aan Kunneke gesê dat sy borskanker het en ʼn dubbele mastektomie moet ondergaan. Kunneke sê daar is nooit ʼn biopsie gedoen nie en dat die dokter slegs ʼn naald-aspirasie gedoen het. Kunneke het na die mastektomie chemoterapie begin ondergaan. Sy het egter besluit om ʼn tweede opinie te kry nadat sy nie soos verwag sieker geword het weens die chemoterapie nie. Die tweede dokter het bevind dat Kunneke nooit kanker gehad het nie en dat sy verkeerdelik gediagnoseer is. Kunneke, ʼn skoonheidsterapeut en voormalige skoonheidskoningin, het aan die koerant gesê sy kan nie rekonstruktiewe chirurgie kry nie aangesien daar nie meer spiere is nie maar net vel en been. “Geen bedrag geld kan die pyn en trauma wat ek moes deurgaan wegvat nie.” Macks Lesufi, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê hulle neem kennis van die hof se besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.