Vrou, ongebore baba oorleef bromponie-ongeluk

Foto: Facebook

Louise Riekert en haar babatjie sterk in die hospitaal aan nadat sy vroeër die week by ʼn verkeerslig in Middelburg, Mpumalanga, deur ʼn voertuig van haar bromponie afgestamp is.

Riekert was sewe maande swanger toe die ongeluk gebeur het. Paramedici het aanvanklik gedink sy het al twee haar arms, bene en van haar ribbes gebreek. Hulle het ook vermoed dat daar bloeding op haar brein was en dat die babatjie se lewe in gedrang is. Riekert is na ʼn hospitaal in Pretoria oorgeplaas waar bepaal is dat slegs haar regterbeen op drie plekke gebreek is, maar dat die babatjie se lewe wel in gedrang is.

“Met die impak van die ongeluk het die plasenta geskeur en die babatjie was vir ʼn ruk lank sonder genoegsame suurstof,” het Riekert se vriendin aan Angel Children Updates gesê. Die babatjie, Vanesmari, is met ʼn noodkeisersnee in die lewe gebring.

“Die dokters is nie seker of die gebrek aan suurstof die babatjie se brein beskadig het nie, dit sal eersdaags bepaal kan word. Sy ondergaan tans behandeling. Die verpleegpersoneel het Vrydagaand gesê die babatjie reageer goed en hulle is positief, maar sy is nog nie buite gevaar nie. Ons sal almal se gebede waardeer dat Vanesmari volkome herstel,” het sy gesê.

Louise is na die keiser geopereer en herstel in die hospitaal se waakeenheid. Die gesin en vriende het almal bedank vir hul gebede en ondersteuning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.