Vrou ontken moord, beweer verloofde het selfmoord gepleeg

Bokkie Grundlingh. Foto: Beeld

ʼn Vrou van Polokwane wat verdink word van die moord op haar verloofde, het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria getuig dat hy selfmoord gepleeg het.

Yvonne Beetge (43) het getuig dat haar verloofde, Bokkie Grundlingh (53), homself op 29 November 2008 doodgeskiet het in hulle slaapkamer in Peninapark in Polokwane. Beetge beweer dat Grundlingh nie by sy volle positiewe was nie en dat sy hom probeer kalmeer het. Sy sê Grundlingh het pynmedikasie misbruik en dat hy partykeer voorgekom het “asof hy in ʼn ander wêreld was” en waar hy terug was in Angola “waar hy mense geskiet en hulle kele afgesny het”. Grundlingh het glo aan Beetge gesê dat hy ʼn verkenningsoldaat was. Beetge het getuig dat Grundlingh haar “sielsmaat” was, maar dat sy agtergekom het dat hy ʼn probleem het met medikasie en vuurwapens. Beetge beweer dat Grundlingh ʼn rewolwer langs sy bed gehou het en vir haar gesê het “om altyd gereed te wees”. Beetge beweer sy en Grundlingh is die oggend van sy dood na ʼn winkelsentrum. Sy sê hy het baie pille gedrink en dat hy die middag toe hulle by die huis gekom het “nie meer homself was nie”.

Grundlingh het glo ʼn rewolwer in sy broeksak gesit toe hulle by die huis gekom het. Beetge sê sy het hom gesmeek om die rewolwer weg te sit. Sy sê hulle ʼn rolprent gekyk oor oorlog toe Grundlingh skielik opgespring het en foto’s van sy ouers en kinders gaan haal het en dit op die grond neergegooi het. Hy het toe glo ʼn brief uit die kluis gehaal en aan Beetge gelees. Hy het glo aan haar gesê hy wil sy lewe neem en haar gevra om hom te vergewe. Hy het toe glo die rewolwer teen sy kop gedruk en sy het dit van hom probeer wegvat. “My hand was steeds op syne. Ek het my oë toegemaak en gesê ‘nee’ en toe hoor ek twee skote en voel hoe die rewolwer uit my hand val”. Sy sê toe sy haar oë oopmaak het Grundlingh op sy knieë gestaan voor haar en sy het besef hy het homself geskiet. Beetge sê sy het hierna probeer selfmoord pleeg deur 60 slaappille te drink. Haar eerste woorde nadat sy in die hospitaal wakker geword het, was glo: “Waar is ek? Ek moet in die hemel wees.” Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.