Vrou ook vas vir Gumtree-moord

Olwyn Cowley

ʼn Vrou van Mitchellsplein is ʼn vyfde verdagte wat tereg staan vir die moord op Olwyn Cowley, die 21-jarige inwoner van Bellville in Kaapstad wat vermoor is toe hy sy kar wou verkoop.

Tania Majiet het Vrydag saam met Jason Elias (30), Rameez Felix (29), Shawaal Staggie (26) en Soegbudien Abvajee (25) in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn, het die Cape Times Maandag berig. Die mans staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Majiet word aangekla dat sy ʼn medepligtige tot Cowley se moord was. Cowley is op 30 Augustus in ʼn lokval gelei, ontvoer en vermoor, nadat hy sy voertuig op die webwerf, Gumtree, adverteer het.

Cowley het sy aanvallers, wat voorgegee het hulle stel belang om sy voertuig te koop, by ʼn vulstasie ontmoet. Cowley is na bewering deur die verdagtes ontvoer en vermoor. Sy BMW is later in Mitchellsplein gevind. Cowley se liggaam is ʼn dag later naby Monwabisi-strand gevind met twee skietwonde in die kop.

Na die moord het die verdagtes na bewering na Majiet se huis in Highlands Village gegaan. Majiet is Elias se vriendin en die ma van sy kind. Abvajee het na bewering die bebloede voertuig by haar huis skoongemaak. Elias het glo ook Cowley se selfoon aan Majiet gegee, waarvan sy ontslae moes raak.

Die staat voer aan die groep het met die gemeenskaplike doel opgetree om Cowley te vermoor. Die beskuldigdes moet weer oor twee weke in die hof verskyn vir die voor-verhoor. Die verhoor begin na verwagting op 27 Mei.

Lees ook:
Gumtree-moordsaak uitgestel
Nog ʼn verdagte soek na moord op Cowley
Man glo na dood gelok na advertensie op internet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.