ʼn Vrou het Dinsdagoggend na haar dood gespring van die negende vloer van die Charlotte Maxeke hospitaal in Johannesburg.
ʼn Woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, Simon Zwane, sê die vrou het vroegoggend gesê sy gaan badkamer toe waarna sy glo selfmoord gepleeg het. Zwane sê die polisie en die departement sal die saak ondersoek. Hy sê die 53-jarige vrou het sowat drie weke gelede ʼn operasie gehad by die hospitaal en is ontslaan. Zwane sê sy is egter Vrydag weer opgeneem nadat sy gekla het dat sy in pyn was. Die DA se woordvoerder vir gesondheid, Jack Bloom, sê dit is ʼn tragiese voorval en het sy meegevoel met die oorledene se familie betuig. Bloom sê ʼn ondersoek na die voorval moet bepaal of alle moontlike maatreëls in plek was om so tragedie te voorkom.