Die polisie is op soek na ʼn verdagte nadat ʼn 22-jarige vrou by ʼn kuierplek in Sasolburg geskiet en gewond is.
Sersant Sellwane Mapamela, ʼn polisiewoordvoerder van die Vrystaat, het gesê die slagoffer het Sondagoggend omstreeks 01:00 saam met vier ander vriendinne buite die kuierplek gestaan en rook. “Vier voertuie het in die parkeergebied van die kuierplek ingery. Die bestuurders van twee voertuie het begin baklei oor ʼn parkeerplek,” het Mapamela gesê.
Die vroue het gesê hulle het ʼn skoot gehoor, waarna die slagoffer, Sizakele Mbele, op die grond geval het, en vir haar vriendinne gesê het haar rug pyn. “Haar vriendinne het gesien haar rug bloei en het ʼn ambulans ontbied. Die slagoffer is na die Metsimaholo-hospitaal geneem, en is later na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.”
Die polisie was op die toneel en het ʼn patroondoppie gekry. Die Sasolburg-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord.
Die polisie is op soek na die bestuurder van ʼn swart Volkswagen Golf met Gauteng-nommerplate om hulle in hul ondersoek by te staan.
Mense met inligting kan konst. Rethabile Shabangu by 016 973 2129 of 082 875 9128 skakel.