Vrou se bloed gesteel

Argieffoto

Die polisie in Ivory Park, Midrand, is op soek na drie mense wat hulself as dokters voorgedoen het, en ‘n vrou se bloed, sonder haar toestemming, getrek het.

“Twee mans en ‘n vrou het Donderdag in wit doktersjasse by die vrou se huis opgedaag,” het ao. Nelda Hlase, woordvoerder van die polisie, Maandag gesê. “Hulle het aangevoer hulle is van ‘n nabygeleë kliniek en het ‘n lêer met die vrou se naam en van by hulle gehad. Hulle het haar vir water gevra, en toe sy terugkeer, het hulle handskoene aangehad. Hulle het haar gegryp en ‘n lap met wat in ‘n onbekende vloeistof gedoop is, in haar mond gedruk.” Volgens Hlase het die mans hierna bloed uit die vrou se arms getrek, en sy is toe met iets ingespuit.

“Die slagoffer het aan die polisie gesê sy het drie bottels vol van haar bloed gesien voordat sy haar bewussyn verloor het,” het Hlase bygevoeg. Dit is nie bekend hoe groot die bottels was, en of die twee mans en vrou inderdaad dokters is nie. Dit is ook nie bekend waarmee sy ingespuit is nie. Niks is uit die huis gesteel nie.

“Dit is nie bekend wat die verdagtes met die bloed beplan nie. Ons ondersoek alle moontlikhede.”

‘n Saak van poging tot moord is oopgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.