Vrou sien hoe verdagte glo geld vervals

Moira Venter van Table View, Kaapstad, het in haar huurder se kantoor ingestap en glo fotostate van R100-banknote oop en bloot op ʼn tafel sien lê.

Charles Duckitt, ʼn webwerfontwerper, het Dinsdag in die Bellville gespesialiseerde kommersiële misdaadhof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van toerusting om vervalste geld te vervaardig, asook die vervalsing of verandering van banknote. Hy is ook aangekla dat hy op twee geleenthede vervalste geld vir brandstof en agterstallige huurgeld gebruik het. Duckitt het onskuldig gepleit op al die aanklagte.

Duckitt het twee kothuise by die Venter-egpaar op hul perseel gehuur. Hy het aanvanklik een van die huise as blyplek gebruik en sy besigheid vanuit die ander huis bedryf.

Venter het in ʼn stadium Duckitt toegelaat om ʼn gedeelte van haar eie kantoor te gebruik, nadat hy nie meer albei huise kon bekostig nie. Venter het kort daarna op die vervalste geld afgekom.

“Ek het hom gevra wat hy doen, waarop hy geantwoord het hy druk geld,” het Venter getuig. “Ek het hom gevra of hy ernstig is, wat hy beaam het omdat hy glo nie enige geld gehad het nie,” het Venter gesê.

Haily Lawrence, Duckitt se prokureur, het voorgestel dat Venter die vervalste geld vervaardig het, en nie Duckitt nie. Venter het vir die landdros gesê: “Dit raak nou belaglik, as ek skuldig was, hoekom is ek nie ondersoek nie? Die aantygings skok my,” het sy gesê.

Lawrence het daarna gesê haar kliënt ontken dat hy enigsins geld vervals het.

Die saak duur voort.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.