Vrou spring van Orlando-toring; oorkom hoogtevrees

Poupienah Makgatho het 100 km ver van Pretoria gery in ʼn poging om sy vrou te help om haar vrees vir hoogtes te oorkom deur van die ikoniese verkoelingstorings, wat Soweto se stadsilhoeët domineer, te bungee.

“Sy het hoogtevrees, maar sy wou dit probeer om te sien hoe dit voel,” het hy, kamera om die nek, gesê, terwyl hy gewag het dat sy op die 100m-hoë voetbruggie wat tussen die twee torings gebou is, moet verskyn.

“Dié ultra-sportsentrum bied aan baie mense wat dit nooit voorheen in Johannesburg se bekendste township sou waag nie, die geleentheid om in Soweto te kom kuier,” sê toesighouer Lawrence Sithole. “Die torings lê op die grens van Soweto, naby die snelweg. As mens bo-op die toring staan dan sien jy die moontlikhede. Mense sien die uitsig, en dan wil hulle graag meer van Soweto ervaar.” Adrenalienverslaafdes kan tussen die twee Orlando-torings of selfs aan die binnekant van een toring bungee. Ander verkies weer om grond toe te abseil, met die klimmuur aan die kant op te klouter, of aan die verfbalgevegte op die grond deel te neem.

Dié heldergeverfde torings is die hoogste strukture in Soweto en dien as baken vir die township. In die 1990s is die torings oorspronklik as ʼn bemarkingsfoefie vir ʼn Suid-Afrikaanse bank geverf, maar nou pryk Nelson Mandela se gesig, ʼn swart Madonna, sokkerspelers, ʼn pendeltrein en jazz-musikante op die torings. ʼn Klein restaurant aan die onderkant van die toring bied lafenis aan die plaaslike gemeenskap en die besoekers. Bungee-spronge was die “mal idee” van die persoon wat in beheer was van die steierstellasie toe die torings geverf is, het Sithole gesê. “Hy moes bykans tien jaar vir goedkeuring wag. In daardie stadium was dit ʼn buitengewone idee om in Soweto te bungee.”

Toeroperateurs bring daagliks toeriste wat in ʼn eksterne hysbak die torings bestyg, waar hulle ʼn panorama van die stad en sy goudmyne kan sien. Nie almal spring nie. Sommige, veral die ouer mense, neem weer die hysbak af grond toe vanwaar hulle dan Mandela se vorige huis, wat nou as ʼn museum dien, besoek.

Op besige Saterdae spring tot 100 mense teen R480 van die torings af: Suid-Afrikaners uit elke sfeer word na die township gelok. Shaun Naidoo, ʼn rekenmeester van die naburige Lenasia, het ʼn groep vriende vir sy 26ste verjaarsdag gebring. “Dis wonderlik, dis ʼn geleentheid wat mens nie moet misloop nie. As jy grond toe kyk net voordat jy spring is dit skrikwekkend,” het hy uitasem gesê ná sy sprong. “Jy dink vir ʼn oomblik jy gaan doodgaan en dan gaan jy weer boontoe. Ten minste is dit iets wat jy kan sê jy het gedoen!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.