Vrou sterf in PTA-kettingbotsing

ʼn Vrou is dood en vyf ander mense is beseer na ʼn kettingbotsing Dinsdagmiddag op die N1-deurpad in die noorde van Pretoria.

Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, sê die ongeluk het by die N1/N4-wisselaar in Doornpoort gebeur.

“Daar was digte rook as gevolg van ʼn veldbrand wat vermoedelik tot die ongeluk bygedra het. Na wat verneem word, het een van die voertuie skielik rem aangeslaan wat veroorsaak het dat die ander voertuie daarin vasgery het,” het Jackson gesê.

Vyf voertuie was in die botsing betrokke en al vyf voertuie is erg beskadig. “ʼn Vrou is op die toneel dood verklaar. Haar man, in dieselfde voertuig, het ligte beserings opgedoen. Die man en drie ander pasiënte is vir geringe beserings behandel en na die Montana-hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het sy gesê. ʼn 28-jarige man is vir kopbeserings behandel en is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal geneem.

Die deurpad is vir verkeer gesluit terwyl die polisie se forensiese eenheid die toneel fynkam. Die ongeluk beïnvloed tans verkeer in ʼn noordelike rigting op die N1-deurpad. Tagtig minute vertragings word aangemeld, en die pad sal, luidens berigte, eers 18:30 weer oopgestel word vir verkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.