Vrou sterf jaar ná aanval

Isabel Hugo Foto: Facebook

Isabel Hugo (67) van die Vrystaat wat bykans ʼn jaar gelede tydens ʼn betoging in Clocolan beseer is, is oorlede en haar vermeende aanvaller staar nou ʼn aanklag van moord in die gesig, het Beeld Woensdag berig.

Hugo, ʼn boervrou, het op 27 Augustus 2012 verby ʼn skare van betogers gery toe haar vermeende aanvaller, Thabo Ntlororo (24) ʼn klip na haar voertuig gegooi het. Die klip het haar teen die kop getref. Ntlororo is in hegtenis geneem en van poging tot moord aangekla, maar is later vrygelaat toe die klag teruggetrek is.

Ná Hugo uit die hospitaal ontslaan is, moes sy in ʼn versorgingseenheid in Bloemfontein opgeneem word, en haar familie moes later vir haar sorg.

Lanta Prinsloo, Hugo se broerskind, het vroeër die week gesê haar tannie se gesondheid het agteruit begin gaan en dat sy Maandag in Universitas-hospitaal in Bloemfontein opgeneem is waar sy oorlede is. Sy sê Hugo was bedlêend en orgaanversaking en longontsteking was uiteindelik die oorsaak van haar dood.

Kaptein Phume Dhlamini van die polisie het aan Beeld bevestig dat ʼn moorddossier geopen is.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.