ʼn Wilde jaagtog tussen die polisie en kapers deur Kaapstadse strate het Maandag tragies geëindig vir Corné Welman (41).
Die Cape Times berig Welman was omstreeks 05:00 op pad na haar werk toe, toe die kapers ʼn rooi verkeerslig verontagsaam en teen haar voertuig gebots het. Die voorval het op die hoek van Buitengracht- en Strandstraat plaasgevind.
Die twee kapers, onderskeidelik van Nyanga en Philippi, is na die ongeluk in hegtenis geneem. Hulle het hoofbeserings opgedoen.
Kaptein Frederick van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het aan die koerant gesê die polisie se blitspatrollie-eenheid het op ʼn kapingvoorval van ʼn groen Toyota Avanza in Nyanga reageer. “Die voertuig was onderweg na Kaapstad waar die blitspatrollie die voertuig opgespoor het. Die vermeende kapers het van die polisie probeer vlug en ʼn hoëspoedjaagtog tot gevolg gehad. Die Avanza het teen ʼn Opel Corsa by die kruising gebots,” het hy gesê.
Die polisie het beslag gelê op ammunisie en ʼn pistool waarvan die reeksnommer afgeskuur is. ʼn Saak van moord word ondersoek.
– Sapa