Vrou sterf terwyl sy skubaduik

Argieffotoʼn Vrou in haar vyftigs is Vrydag in Durban dood nadat sy vermis geraak het terwyl sy saam ʼn groep mense gaan skubaduik het.

Volgens Clfford Ireland, die stasiebevelvoerder van die Durbanse Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het hulle omstreeks 10:12 ʼn oproep ontvang dat die vrou vermis geraak het tydens ʼn skubaduik by Blood Reef, sowat 1.5 seemyle van The Bluff.

Teen die tyd dat reddingswerkers by die gebied aangekom het, is die vrou se liggaam deur die duikmeester opgespoor en na die oppervlak gebring. Sy is op die NSRI se reddingsboot geplaas en na die oewer geneem waar paramedici van Netcare 911 haar ondersoek en dood verklaar het. Dit is nog nie bekend hoe die vrou vermis geraak het en wat haar dood veroorsaak het nie.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek aangevra. Die vrou se naam is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.