Vrou sterf toe vragmotor op voertuig beland

Foto op Twitter gepubliseer deur die gebruiker @ER24EMS

Een vrou is dood nadat ʼn sementvragmotor Sondag bo-op ʼn VW Golf beland het.

Die vragmotor het in New Greytownweg in Pietermaritzburg gery toe die bestuurder glo beheer verloor en oor die middelman van die pad gery het, het Vanessa Jackson, woordvoerder vir ER24EMS gesê. Die vragmotor het gerol en uiteindelik bo-op die Golf beland. Paramedici kon slegs die twee wiele aan die regterkant van die voertuig sien. Daar was vyf persone in die Golf toe die ongeluk plaasgevind het. ʼn Jong man het uit die voertuig geval en hy het redelike beserings opgedoen.

Reddingswerkers het dadelik deur die metaal begin sny om die pasiënte uit die wrak te bevry. Die vrou wat op die agtersitplek gesit het, het in die stadium reeds aan haar beserings beswyk. Haar eggenoot, wat langs haar gesit het, was in ʼn ernstige toestand. Die twee persone wat voor in die voertuig gesit het en glo ʼn broer en suster is, het redelike beserings opgedoen en is in ʼn bestendige toestand.

Al vier pasiënte is vir verskeie beserings op die toneel behandel en na nabygeleë hospitale geneem.

Die vragmotorbestuurder was nie op die toneel nie. Die polisie sal die oorsaak van die ongeluk ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.